Dwelms, omdraai is moontlik

Feb 3, 2022 | Stories of Hope

*Kobus is 15 jaar oud en ‘n hoërskoolleerder. Hy is onlangs in ‘n rehabilitasiesentrum vir ‘n dwelmafhanklikheidsprobleem opgeneem.

Ani Grobbelaar, maatskaplike werker van CMR Gauteng-Oos se Lyttleton-tak, is dankbaar dat sy vir hom ‘n plek in ‘n sentrum kon kry. Sy stap ‘n pad saam met *Kobus, wat werklik wil omdraai en sy afhanklikheid die rug wil toekeer.

“Hierdie seun verdien nog ‘n kans. Hy het in die verkeerde vriendekring beland. Dinge by sy ouerhuis is ook nie gunstig nie. Hy woon saam met sy tannie en albei sy ouers is in ‘n motorongeluk oorlede. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, het die ou mense altyd gesê en ons sien dit elke dag in ons werk. Kinders wat nie besig is nie, soek Vermaak. Om op straat rond te loop met niks om te doen nie, is moeilikheid soek. *Kobus het, omdat sy tannie bedags by die werk is, saam met die verkeerde vriende begin leeglê” sê Grobbelaar.

*Kobus is een van baie min verstands wat die moed het om op te staan, hulp te soek om skoon te kom en sy lewe sonder dwelms oor te begin. Grobbelaar verduidelik dat dwelms geredelik by skole te kry is. Die kind wat *Kobus se eerste pila an hom verskaf het, en hom aangemoedig het om dit te probeer, is ‘n verskaffer en maar net een van baie wat al in plaaslike skole sake doen.

“Dit is ‘n bekende feit dat solank iemand weier om te erken da thy ‘n probleem het, niemand hom sal kan help nie. Maar wanneer hy, soos *Kobus, daardie plek bereik en om hulp vra, is die kanse goed dat hy sal kan omdraa en suksesvol sal wees. Kobus sal kan teruggaan skool toe, en ‘n nuwe blaadjie omslaan.”

Die uitdaging is nog glad nie verby nie. Hy sal moet sterk staan teen die vriende wat hom in die gemost laat beland het – hulle is nog daar en hul dwelmgebruik duur voort.

*Kobus het my vertel dat dagga so algemeen is dat min kinders hulle eintlik daar steur. Iemand wat sou dink om dit nie te gebruik nie, word uitgelag en vertel hy weet nie dat dit heeltemal veilig is en dat ‘n mens nie aan dagga verslaaf kan raak nie. Kinders glo dit en so waag baie van hulle maklik die eerste stap na algehele dwelmverslawing. Hy het self eers dagga begin gebruik, en later ander pille se bedwelming leer ken.

“Ons verleen ondersteuning aan Kobus vir so lank as wat hy dit nodig het. CMR Gauteng-Oos lewer statutêre dienste aan kinders tot op 18-jarige ouderdom, in ooreenstemming met die Kinderwet no.38 van 2005.”

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, benadruk die feit dat dit nie net een skool se uitdaging is nie, maar alle skole s’n.

“Om kinders te help om nie in die gat t eval nie, is almal se verantwoordelikheid. Ouers moet deel word van die stryd. Weet waarmee jou kind besig is. Onderwysers, beraders, sielkundiges, maatskaplike werkers, almal moet hande vat en keer dat ons kinders in hierdie strik gevang word,” sê sy.

CMR Gauteng-Oos het 13 takkantore oor die hele Pretoria heen, en bedien altesaam 27 000 mense per jaar met maatskaplike ondersteuning.

*’n Skuilnaam is gebruik omdat die seun ‘n minderjarige is en nie geidentifiseer mag word nie.

0 Comments