Ek kan nie ophou steel nie

Sep 9, 2020 | Stories of Hope

Angela het kleptomanie oorwin met die hulp van Jesus Christus en die ondersteuning van CMR-Moreletapark.

“Ek is al vanaf agtjarige ouderdom skuldig aan winkeldiefstal. “  So gesels Angela Botha* (skuilnaam) met Helena van Emmenis oor haar probleem.

“Ek ly aan kleptomanie, want ek kan nie ophou steel nie.  Dit is asof iets in my kop vir my sê om te steel.”  Van die artikels wat sy gereeld steel is toiletware, vleis en plante.  “Geld is nooit die kwessie as ek steel nie.  Ek en my seuns vrees die geluid van ‘n alarm wat by die deur afgaan.  Ons ken al die geluid van ‘n alarm!”

Angela is al ‘n paar keer gevang, maar dit stuit haar nie.  “Die idee dat ek in die tronk kan beland, keer my glad nie om te steel nie.  As ek lus voel om iets te steel, klim ek in my kar en gaan doen dit.  Ek dink glad nie aan die gevolge nie.”

Angela het twee kinders, onderskeidelik 12 en 15 jaar oud.  “Hulle weet ek steel.  Soms is hulle by my wanneer ek winkel toe gaan en uitloop sonder om te betaal.  Ek sê gereeld vir hulle dit is verkeerd en dat hulle dit nooit moet doen nie.”

Sy meen haar tegnieke het oor die jare verbeter en dat dit haar kanse verlaag om gevang te word.  “Ek weet ek moet ophou, maar ek het nie die wilskrag nie.”  Die meeste van die goed wat Angela steel, gee sy weg.  Daarna ontwikkel sy skuldgevoelens en loop met ‘n geweldige worsteling in haar.

Wat is kleptomanie?  Dit is ‘n toestand wat by 5-10% mense voorkom.  Helena verduidelik aan Angela dat die belangrikste aspek van kleptomanie die aanhoudende mislukking is om die impuls te beheer wat steel weerstaan, hoewel die artikels wat gesteel word, nie vir persoonlike gebruik of die geldwaarde daarvan, nodig is nie.

Volgens Helena ervaar Angela ‘n styging van subjektiewe spanning voor die diefstal en dan plesier, genoegdoening of verligting terwyl sy die diepstal pleeg.  ‘n Kleptomaan steel nie uit woede of wraak nie.  Die goedere het tipies min waarde vir haar, veral omdat sy dit meestal weggee.

Angela ervaar die impuls om te steel as onaanvaarbaar ten opsigte van haar ideale voorstelling van haarself en sy is bewus dat dit verkeerd en sinloos is.

CMR-Moreletapark het ‘n lang pad met Angela gestap.  Sy word op ‘n weeklikse basis gesien, sodat sy oor haar onderliggende angs en verwerping kan gesels.  Om haar eiewaarde te verhoog, is sy ‘n voltydse vrywilliger van CMR.  Angela vaar uitstekend in die gemeente stoor waar sy behulpsaam is met die sortering van klere, uitdeel van kospakkies en algemene instandhouding.  Sy vaar uitstekend en het onmisbaar vir CMR geraak.

In die genesingsproses het Angela begrip getoon vir kinders in kinderhuise.  Tans is sy ‘n naweek-ouer vir twee tienerdogters uit die kinderhuis. 

Vir die afgelope 13 maande het Angela nog nie een item uit winkels gesteel nie.  Wanneer Helena vir haar vra of dit moeilik is, is die eerlike antwoord dat dit elke dag, elke minuut, ‘n wilsbesluit neem om dit nie te doen nie.  Elke dag spook sy met haar eie gedagtes en moet opnuut self ‘n besluit neem.  Angela het so gevorder in terapie dat sy besluit het om in 2012 ‘n beradingskursus aan die Universiteit van Potchefstroom te volg. 

God het presies geweet wat die oorsaak en gevolg van haar verwonde hart is.  hy het elke wond met sy groot liefde heelgemaak en verpleeg dit met deernis.  In die gesondword proses, het Angela bevryding beleef en in dié vryheid lê diepe geluk en vrede.

Angela het kleptomanie oorwin met die hulp van Jesus Christus en die ondersteuning van CMR-Moreletapark.

0 Comments