‘n Storie van HOOP

Sep 14, 2020 | Stories of Hope

Dit was soos enige ander dag – daar was vele oproepe om te hanteer, hofverslae om te skryf, hofafsprake om na te kom, onderhoude van mense wat my kom sien het, verslae om in te dien, geboortesertifikate om by Binnelandse Sake te kry ens, ens….’n deurmekaar lessenaar waarop ek àltyd na alles soek!

En toe kom die oproep van my kollega by die hospitaal. Kan ek asb help – hulle het ‘n HIV positiewe dogterjie daar van 6 maande wat uitgeplaas moét word.  Sy het nou persoonlike TLC nodig, hope en hope daarvan.  My moed het in my skoene ingesak – dit mag ‘n probleem wees.  Waar kry ek nou veiligheidplekouers wat my met so ‘n dogtertjie kan help??  Talle oproepe later laat weet ek my kollega – ek is besig om  veiligheidsouers te soek, hou net vas!  Ek moes toé reeds geweet het dat God hier aan die werk is.  Jy weet, soms vergeet ons om te onthou dat God àltyd met ‘n plan werk.  Nietemin, so skakel ek een na die ander van my veiligheidsouers.  Jammer, jammer ons kan nie help nie, geen opening nie, kan nie nou ‘n HIV positiewe baba inneem nie, ens….  My laaste oproep is na Johanna  wat ek weet reeds twee HIV positiewe pleegkinders  in haar sorg het.  Miskien kan sy help (net vir ‘n rukkie!) of weet sy dalk van iemand wat my kan help.  Ja, sê sy, bring haar, ek sal help, maar onthou, net vir ‘n kort tydjie.  Dankie Here, nou kan ons Mary huis toe bring!!  Skakel my kollega by die hospitaal nadat twee dae van onophoudelike skakel, reeds verstryk het.  Ek kom haal Mary môre.

Ek pak my gewone sakkie wanneer ek babas by ‘n hospitaal gaan haal.  Ek los maar die klein babakleertjie in die sakkie, en pak 3-6 maande kleertjies in – Mary is darem al 6 maande!!  By die hospitaal stap my kollega saam met my na die baba-afdeling.  Ons wag vir die besige suster om te kom help.  Ek verwonder my soos altyd aan al die babatjies daar.  Ek stap na wat vir my soos ‘n 6 maande oue dogtertjie lyk – ja dis seker sy!!  Die suster wat intussen opdaag stap na ‘n wiegie met ‘n babatjie wat sowat 2 maande oud lyk en soos ‘n siek babatjie boonop!!  “Nee” skreeu dit in my binneste, jy maak ‘n fout suster, hier is Mary, daardie babatjie lyk vir my nie baie lekker nie – inteendeel, sy lyk vir my tot die dood toe siek!!  Die suster met die sagte oë kyk na my en sê sag, “nee Anne-Marie, hier is sy!”  Maar suster, sy lyk dan 2 maande oud en nie gesond nie, is julle seker sy is gereed vir ontslag?  Die koudheid van my bloed maak my bewerig – ek vra om eers die pediater te sien.  Toe laasgenoemde opdaag verseker sy my dat Mary nou huis toe moét gaan.  Hulle kan niks meer vir haar in die hospitaal doen nie.  Sy het nou baie liefde en persoonlike aandag nodig.  Ek luister met angs en probeer kophou tussen verduidelikings oor al die medikasie wat hierdie mensie moet inneem.  Flou probeer ek weer vra:  dokter is jy seker?  Hierdie kleine amper – mensie wat soos ‘n pasgebore baba lyk, is jy regtig seker??   

Later is ek daar uit – ‘n kleine baie brose mensie toegedraai in ‘n kombersie.  Die klere wat ek gebring het, hopeloos te groot.  Gelukkig was die 0-3 maande klere nog in die sak.  Mary weeg sowat 2,6 kg en is 6 maande oud!!  Ek onthou dat ek met God gepraat het en gevra het “wat nou?!”  Ek laat Johanna weet ek is op pad – moet net gou kantoor omry om die nodige dokumente te fotostateer.  Op pad begin Mary met ‘n roggelhoesie hoes.  “Asseblief Liewe Jesus” bid ek, “moenie dat sy nou doodgaan nie!!”  Ek praat met haar en smeek haar om vas te byt.  By die kantoor aangekom, begin daar so ‘n bloederige slym by die neusie uitkom.  Ek is amper histeries, maar besef ek sal moet kalm bly.  Ek praat met God en eis van Hom om hierdie kind te beskerm – Hy het haar immers oor my pad geplaas?  My kollegas by die kantoor bars in trane uit.  Dit help my nou glad nie – ek maak klaar en jaag amper na Johanna toe.  Daar gekom ontvang sy my met haar gewone hartlikheid, maar ek sien die kommer in haar oë by die aanskoue van Mary.  Johanna is immers ‘n hoogs opgeleide verpleegsuster, hoekom lyk sy so bekommerd?!  Sal iemand asseblief net vir my sê dat alles okay is??  Ek verduidelik die situasie aan Johanna en oorhandig ‘n hele hoop medikasie aan haar wat Mary moet kry.  Ek groet en vra dat sy my op hoogte hou.  Sowat 21:00 daardie aand skakel Johanna.  Anne-Marie, verklaar sy, jy weet natuurlik dat Mary baie siek is – ek mag jou dalk later vanaand weer bel met baie slegte nuus.  Ek bid tot God en wonder hoekom doen Hy dit aan my?? Ek vergeet skoon dat dit nie om my gaan nie.  Iewers vanaand veg ‘n kleine mensie vir kosbaarheid wat ons “lewe” noem.  Dit raak stil in my binneste en ek weet onwrikbaar dat God sal sorg. 

 So het ‘n nag ‘n week geword en ‘n week ‘n maand.  So weer het ‘n maand maande geword en laat weet Johanna my op ‘n gereelde basis dat Mary se toestand verbeter en stabiliseer.    Tipies God verwyt Hy my nie oor my ongeloof nie, maar gaan net voort om Sy genadewerk voort te sit.  Tydens ‘n besoek aan Mary op haar eerste verjaarsdag maak God die Hemel net weer vir my oop.  Ek word begroet met ‘n oop bekkie met ‘n tandjie hier en daar!!  Mary steek haar handjies vir my uit en ek druk ‘n kleine wonderwerkie uit God se Hand styf teen my vas!!    “Hoe groot is U, hoe groot is U” –  Dankie Liewe Jesus, baie dankie!!

Dit gaan goed met Mary – natuurlik is sy steeds HIV positief maar daar is hoop vir ‘n toekoms.  Haar storie is nog nie voltooi nie.  Weens Johanna se ouderdom sal sy nie meer vir lank na Mary kan kyk nie.  Ons is besig om aan ‘n nuwe plan vir hierdie merkwaardige dogtertjie te werk.  Maar ek is nie bang nie.  Het God nie reeds gewys dat hier ‘n Plan is wat ons nog net nie mooi raaksien nie??  Ek onthou hoe bang ek was, ek onthou hoe my bloed yskoud in my are geword het toe ek bang was Mary sterf in my arms.  Dankie Grote God!!  En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie, maar die grootste hiervan is die Liefde!! Dankie God en dankie ook vir mense soos Johanna!!

1 Comment

  1. Tiniel Pretorius

    I am an individual who would like to form part of this cause.

    Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *