Omgee kan ‘n kind se lewe verander

Oct 13, 2021 | Child Abuse, Stories of Hope

As ‘n maatskaplike werk hulporganisasie is dit vir ons ‘n riem onder die hart as oplettende volwassenes  ons kontak om kinders te kan help

Die meisie kyk met leë oë om haar rond. Waar is hy? Haar pa het haar gedwing om hier te kom staan en bedel. Sy doen dit al jare lank. Elke aand na donker moet sy teruggaan na die klein krot wat hy so lendelam staangemaak het tussen twee geboue. Net ‘n enkelmatras wat winter en somer vir hulle ‘n bed moet wees. Vir haar ma en pa moet ook plek gemaak word om darem ietwat van lê te beleef. Douvoordag word sy weer uitgeboender om haar bakhanddag nog eens aan te pak.

Aletta is al 18. Sy kan nie lees of skryf nie, omdat sy nooit skool beleef het nie. Van die lewe van ‘n tiener kan sy niks vertel nie – omdat sy nog maar net as ‘n bedelaar bestaan. Skuins klappe is alledaags, veral as haar pa nie geld het vir sy dwelms nie. Drank is ‘n tweede keuse, ook makliker om in die hande te kry – dis te sê as sy genoeg geld “huistoe” gebring het. Haar ma is ook verslaaf. Vir haar gee hul nou en dan ‘n trek dagga.

Aletta se ma is ‘n sekswerker. Sy neem Aletta ook soms saam – as die nood groot en die bedelgeld te skraps is. Sy weet nie van keuses maak nie. Ander kinders van haar ouderdom is besig met loopbaankeuses, studiekeuses, en matriekafskeidrokke. Aletta sal nooit ‘n matriekafskeidrok hê nie – en ook nooit matriek behaal nie. Aletta kan nie kies wat sy wil doen nie.

Sy weet nie hoe gekookte kos proe nie. Brood, worsies en polonie. Dis hul stapelvoedsel. Sy voel baie gelukkig as sy ‘n beker koffie in die hande het. Dis vir haar ‘n groot bederf. Nie melk nie. Maar darem ‘n lekseltjie suiker. Soms.

Aletta het nog ‘n sussie ook. Hulle is deur maatskaplike werkers in pleegsorg geplaas omdat hulle nog minderjarig is. Haar jongste sussie, Karien, is nog in die laerskool al is sy amper 14. Sy het soveel skool gemis dat sy nog prober inhaal. Net soos Aletta, het haar pa haar seksueel gemolesteer en aangerand. Maar gelukkig vir Karien, het ‘n ander werkemer by die maatskappy waar haar pa soms dagwerk doen, opgemerk iets is nie pluis toe hy Karien gesien het nie. Sy het toe werk daarvan gemaak om hulp by ‘n maatskaplike werker te kry.

Karien is na assessering van die omstandighede, deur die kinderhof in pleegsorg geplaas. Sy kies om nie kontak met haar ouers te hê nie. Aletta dink Karien is een van die gelukkiges. Wat betyds hulp gekry het om uit haar swak agtergrond en omstandighede te ontsnap. In haar pleegouers se sorg sal Karien keuses kan uitoefen. Sy sal haarself kan verbeter en ‘n gesonde toekoms kan skep.

“As ‘n maatskaplike werk hulporganisasie is dit vir ons ‘n riem onder die hart as oplettende volwassenes  ons kontak om kinders te kan help. Vir Aletta is dit te laat, maar Karien kan nog ‘n sukses van haar lewe maak met die hulp van haar pleegouers. CMR Gauteng-Oos ondersteun pleegouers met opleiding en lewer verdere dienste soos berading en sielkundige hulp waar nodig,” sê Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos.

Kontak jou naaste CMR kantoor as jy belangstel om ‘n pleegouer te word.

0 Comments