Soberheid deur God se krag – ‘n tweede kans

Sep 8, 2020 | Stories of Hope

Louis* (skuilnaam) onthou die tyd toe alkohol sy lewe oorheers het, nog soos gister.

My alkoholprobleem het my so stil-stil bekruip totdat ek totaal afhanklik daarvan geword het.  As ek nou terugdink, het dit vashouplekke gevind daar waar ek te doene gehad het met nie-lekker goed nie, onder ander die grensoorlog waar ek ‘n bottel Portugese rum saam met Portugese soldate in Angola uitgedrink het na ‘n sekere onaangename gebeurtenis.  Dit het my goed laat voel en ek onthou nog die spesifieke naam van die rum.  So het dit dan oor ‘n lang tydperk ‘n plek in my lewe vasgemaak.

Ek was ook vir 14 jaar een van drie persone in die land wat uitgesonder was vir die ouditering van die koverte projekte van die Weermag.  In daardie tye het ek baie gereis, in die buiteland sowel as na Afrika-lande, sonder dat enigiemand behalwe die Ouditeur-generaal (OG) geweet het waar ek was en hoe lank ek weg sal wees.  Ek was, na aankoms, op ‘n tyd vir ‘n geruime tyd iewers in die buiteland in aanhouding vir ondervraging deur die veiligheidspolisie van daardie land.  Ek het gevrees vir die dag waarop ek die betrokke land moes verlaat en het ‘n bottel Gin uitgedrink, voordat ek die moed gehad het om die doeane te face.  Hierdie bagasie was van my verskonings om te drink.  Later jare het ek vasgehou aan my verlede en het verskriklik begin drink.  Toe ek eindelik, na my eerste rehab, besef dat ek ‘n groot drankprobleem het, was dit te laat en kon ek net nie ophou nie.  Dit het deel van my daaglikse bestaan geword en kon ek nie ‘n dag daarsonder nie.  My grootste probleem was dat ek gedink het dat ek met my eie krag kon ophou, want ek is mos ‘n gelowige.  Ek het aan die Here geglo, maar min het ek geweet dat die Vader nog altyd by my was en gewag het dat ek net die deur moes oopmaak.  In my woelige worstelling met die gedagte dat ek mos by myself hierdie probleempie kan uitsorteer, het ek weer in sewe rehabs beland.

Tydens my voorlaaste rehab het ek ‘n hartaanval gehad.  Die ganse personeel het ‘n ambulans ontbied en ons het seker twee ure daarvoor gewag.  Ek noem dit spesifiek, want dit was die Vader se betyds.  Met my aankoms by Unitas Hospitaal, is ‘n EKG gedoen en die kardioloog kon geen afwyking sien nie en my ontslaan.  Terwyl ek besig was om aan te trek, het ek net die kardioloog so vaagweg hoor skree en hy het dadelik begin met resussitation.  Dis nou daardie masjien wat jou so twee meter hoog laat trek.  Ek het gevoel dat my gees my liggaam uit my regtersy verlaat.  Ek onthou hoe ek omgekyk het en die noodpersoneel aan my sien werk het.  ‘n Onbeskryflike vrede het oor my geheers.  Ek het opwaarts beweeg en die groenste groen bokant die blouste blou met ‘n duidelike skeidslyn gesien en die volgende oomblik was ek weer terug op die bed met met mense rondom my.  Nadat ‘n balon in my hart ingeplant is, moet ek vir vyf dae stil lê voordat ek geopereer kon word.

Na vier omlydings was ek vir nog 21 dae in intensief.  Ek is die Saterdagoggend ontslaan en toe ek weer sien, stap ek ‘n uur later uit die drankwinkel met genoeg voorraad vir ‘n paar dae.  Lyk my toe het ek ernstig begin drink en ek was van plan om my dood te drink.  Ek was glo in ‘n koma, want ek kon niks onthou van my opname in Magaliesoord nie.  Na mediese behandeling is ek na die eintlike rehab oorgeplaas.  Dit was my omkeer.  Ek het toe eers besef dat ek op geen manier op myself kan staatmaak om my te red nie.  Die tweede of derde aand het ek ‘ n vreemde gevoel hier binne my gekry en ek het OPREG gebid en vir Jesus gevra dat HY asseblief moet oorneem, want ek kon nie.  Dieselfde aand het ek ‘n beeld van die Vader gesien.  Ek het op sy een arm gesit en het gesien dat Hy ‘n deurskynende bottel het, ek kon nie sien of dit leeg of vol was nie.  Hy het dit oor ‘n afgrond vol digte mis gegooi.  Ek het ook ‘n skerp lig aan my regterkant gesien.  Ek het gevoel hoe ‘n groot ding uit my lewe verdwyn en het net ‘n groot rustigheid ervaar.  Dis toe dat ek besef het GOD IS IN BEHEER.  Wat ‘n wonderlike ervaring!  Ek het die volgende oggend gedros met daardie versekering – ek dink dit was die Maandag- of Dinsdagoggend.  Dieselfde week het ek by Saamstaan – ‘n ondersteuningsgroep vir substansafhanklikheid van Moreletapark Gemeente aangesluit.  Dit was iewers in September – sewe-en-‘n-half jaar gelede.  Ek het die nabyheid en die vreugdegevoel van die Heilige Gees hier binne my gevoel.  ‘n Onbeskryflike, wonderlike gevoel en ek wou net dans soos Dawid. 

Op 31 Januarie die volgende jaar het Jesus my na die doop gelei.  Oppad kerk toe, het ek ‘n dubbele reënboog gesien en het so special gevoel.  So asof die Vader net vir my dit wou wys, STUNNING.  Ek lewe nie net meer van dag tot dag nie, maar LEWE elke dag.  Ek voel opgewonde oor ‘n LEWENDE VADER – dankie Jesus!

Die ondersteuningsgroep met sy mense het vir my ongelooflike betekenis.  Dis ‘n groep wat Jesus laat onstaan het met spesifieke, aangewese leierskap.  Dis my boeties en sussies, dis ‘n groep wat die omvattende betekenis van VRUG VAN DIE GEES uitleef.  Dis ‘n groep van my bestaan.  Dit ‘n groep wat met lief en leed, almal verstaan.  Dis ‘n groep waar ek nie maklik op ‘n Donderdagaand verby ry nie en dis ‘n groep wat die Heilige Gees bywoon en ek glo dis ‘n groep waarin Jesus welkom voel, want ons heilig sy Naam – dankie Jesus.  Ek voel geborge en vry binne die groep en ervaar ‘n nie-veroordelende houding vanaf die maatskaplike werker – dankie dat ek weer mens kan wees en ‘n tweede kans kan kry.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *