Sy wil nie praat nie

Sep 10, 2020 | Stories of Hope

‘n Storie van ‘n 3 jarige dogtertjie wat net nie wil praat nie

Ek kry ’n nuwe aanmelding van ’n 3 jarige dogtertjie wat nie wil praat nie.  Sy kan praat maar net met mense wat sy baie goed ken en vertrou.  Ook ‘luister’ sy nie in die skool nie en sukkel sy met maats.  Die mamma is bang dat sy dalk ’n mate van outisme het, aangesien haar ouer boetie met outisme gediagnoseer is.

Sy is die liefste dogtertjie.  Weier om te praat en weier om enigiets te doen wat die terapeut haar vra om te doen of voorstel wat hulle kan doen. Al wat sy doen, is om onder die klein tafeltjie in te kruip. Terapeut besluit om maar ’n ‘tent’ te bou aangesien sy nie onder die tafeltjie kan pas nie. Die dogtertjie is mal oor die idee en dit is al wat gedoen moet en mag word gedurende sessies.

Terapeut werk volgens kind se proses en gebruik die tent as middel en medium vir terapie.  Terapeut mag aanvanklik net buite die tent wees met die deur flap wat toe is.  Speelgoed mag onderdeur tentflap aan dogter verskaf word.  Later kan opdragte soos om ’n tekening te maak deur die tentflap geskied.  Met tyd mag die tentflap gelig word.  Later word terapeut genooi om saam met dogter in tent te sit.  Steeds word minimum woorde gebruik.  Gebare en geluide is ons medium van kommunikasie.

Dit wil voorkom of die dogtertjie aan selektiewe mutisme ly.  Selektiewe mutisme is ‘n sosiale angs-versteuring waar ‘n persoon wat in staat is tot spraak en kommunikasie in gegewe situasies nie in staat is om te praat nie.

Selektiewe mutisme kom veral by kinders voor.  Dit is ‘n vorm van angs en kan maklik met outisme of asperger verwar word.  Kinders wat aan selektiewe mutisme ly sal gewoonlik nie ‘n woord in die skool of groep-opset praat nie, maar is baie geselserig tuis.  Die res van die kind se ontwikkeling en gedrag toon normaal.

Na ‘n goeie terapeutiese verhouding gebou is, wys terapeut gedurende ’n sessie weer die speelgoed-diere aan die dogtertjie en sy begin vertel oor ‘n krokodil wat hulle met ‘n uitstappie gesien het.  Ons eerste deurbraak!  Met tyd word die tent vir haar minder belangrik en kommunikeer sy vrylik met die terapeut.  In die sessies word aandag gegee aan haar selfbeeld, ontspanningstegnieke en sy leer om te vertrou.  Haar Juffrou meld dat die dogtertjie heeltemal verander het en nou ook vrylik met haar kommunikeer.

Sy moet ongelukkig na ‘n ander skool skuif – ‘n baie groter skool.  Almal verwag ‘n terugval aangesien so ‘n skuif baie angs by ‘n kind meebring.  Die terugvoer is verstommend! Sy pas ongelooflik goed aan en het geensins teruggeval nie!  Daar word vir ‘n tyd nog terapie gedoen om haar te monitor, maar sy het geleer om haar angs te bowe te kom en vorder baie goed!

0 Comments